home   PO Box 567, Strand, 7139, South Africa
Expert tips for enjoying life after 50

Die lewe ná aftrede

Een van die grootste oorsake van depressie by ouer mense is dat hulle voel asof hulle eenkant toe geskuif word, met geen nut in die lewe nie. Dít terwyl almal minstens een doel benodig om na te streef.

So sê dr. Arien van der Merwe, ’n dokter met ’n welstandskliniek in Pretoria en deskundige op die gebied van onder meer holistiese medisyne, asook langlewendheid.

Van der Merwe verkies om te verwys na die “wysheidsjare”, eerder as bejaardheid, en bied werksessies oor dié ontwerp aan.

“Bejaardheid het ’n negatiewe konnotasie van ’n afdraende pad, terwyl ‘wysheidsjare’ deel is van die volgende natuurlike stap in ons lewensiklus,” sê sy.

Johannes Jordaan, ’n afgetrede boedel- en finansiële beplanningskonsultant en skrywer van Prima tyd: Geniet jou lewe ná 50, verwys na die lewe ná aftrede as “prima tyd” waaruit mense baie vreugde kan put.

“Sommige beskou ouer word en aftrede soos om in die ‘wagkamer van die dood’ te gaan sit, maar mense moet positief oor hul aftrede en die ouderdom dink,” sê hy. Anders is depressie, siekte en selfs ’n vroeë dood dikwels onafwendbaar.

Dr. Melodie de Jager, stigter van die Mind Moves-instituut en skrywer van Die glinster in my grysheid, beaam mense dink te veel oor wat hulle nie meer kan doen nie, eerder as dit wat hulle wel kan doen.

“Hulle glo al wat ’n doemprofeet is oor oudword,” sê sy.

“Jong mense maak ook die fout om te dink ouer beteken dommer. Hulle slaan die bal ver mis, behalwe as ouer mense dit ook glo en dan só optree.”

Bly aan die gang

Stagnasie is een van die grootste foute wat mense maak as dit kom by ouer word, sê Van der Merwe.

“ ’n Mens se brein is soos ’n spier wat atrofieer as dit nie oefening kry nie,” sê sy. “Baie gee op ná aftrede en selfs vroeër, kyk heeldag televisie of lees koerant, en wat dan?”

Op 76 sit Celeste van der Walt, die streekdirekteur van Annique in die Oos-Kaap en ’n Senior Mind Moves-fasiliteerder, selde stil.

Senior Mind Moves is ’n afdeling van die Mind Moves-instituut en sluit breinoefeninge en beweging in wat daarop gemik is om die sintuie, die brein, die spiere en die senuwees in die gevorderde jare gesond te hou.

Van der Merwe meen wanpersepsies gaan hand aan hand met oud word.

“Daar is ’n kultuur geskep dat jy werk as jy jonk is en stilsit en dalk ’n bietjie toer as jy oud word – verder is jy nutteloos.

“Maar kenners sê jy raak net oud as jy belangstelling in jou lewe verloor, ophou droom oor ’n toekoms, ophou soek na nuwe feite en inligting en nuwe dinge om te oorwin. Studies bewys ook mense wat gesond oud word, is diegene wat betrokke bly.”

Sy verwys na ouer mense wat byvoorbeeld al jare tuinmaak en oor naweke by kwekerye uithelp; ’n vrou in haar 80’s wat elke tweede dag muurbal in ’n agtergeblewe gemeenskap naby Port Elizabeth afrig en die inwoners van ’n versorgingsoord vir demensielyers in Pretoria waar al die inwoners ’n taak het, soos om daagliks die donkies te voer.

“Die mense by dié oord se gesondheid is uitstekend, ondanks hul demensie. As jy egter sommige ander oorde besoek, sit die mense net heeldag en het hulle elke kwaal onder die son,” sê Van der Walt.

Ons eie ingesteldheid bepaal beslis ons idee van ouer word, sê Van der Merwe. Sy onthou hoe haar eens op en wakker ma reeds op 80 haar lewenslus verloor het.

“Dit was asof daar ’n skakelaar in haar wese afgesit is en sy het vinnig begin agteruitgaan. Sy het beslis besluit 80 is haar mylpaal. My mylpaal is om gelukkig en gesond ’n rype 150 te word.”

Glad nie so vergesog nie, want volgens Van der Merwe dui nuwe navorsing daarop dat ons “fisiologiese erfdeel” is om 150 tot 200 jaar oud te word.

Betrokkenheid by die gemeenskap speel ’n groot rol hierin.

Volgens Van der Merwe is siektes wat met veroudering vereenselwig word, soos Alzheimersiekte, so te sê onbekend in kulture waar ouer mense gerespekteer word as mentors vir jonger geslagte.

“Ons Westerse kultuur, wat jeugdigheid verafgod, veroorsaak dat die wysheid wat ouderdom bring, gering geskat word. As ons kan opsien na die ervaring en kundigheid van die ryper jare, tap ons uit ’n onuitputlike bron van potensiële kennis.”

Volgens Ingrid Cupido, die hoof van die niewinsgewende organisasie Age-In-Action wat hom vir die waardigheid van ouer mense beywer, glo dié organisasie nie dat mense uit die werkplek gedwing moet word bloot omdat hulle 60 of 65 jaar oud geword het nie.

“Dié mense is waardevolle hulpbronne en wil dalk nie voltyds werk of ’n salaris verdien nie, maar sal gelukkig wees om so twee keer per week by hul voormalige werkplek ’n draai te maak, net om op hoogte te bly. Hulle kan dan ook wonderlike mentors wees vir jong gegradueerdes wat die werkplek betree.”

Jordaan sê dit was juis sy eie lewenservaring wat hom genoop het om op 70 sy boek te skryf nadat hy reeds self sy eie emosies en uitdagings van dié tydperk ervaar het.

Bestuur jou denke

Van der Merwe glo lewensvreugde is die weg tot ’n lang lewe.

“Ons is geskape om gelukkig, lewenslustig en gesond oud te word! Die meeste mense voel hulle kan dit nie bekostig om so oud te word nie.

“As ons egter vroeg genoeg al kyk na ander belangstellings en moontlike aanvullings tot ons inkomste, is dit mos lekker om aktief en skeppend te wees, of hoe? Dan is dit goed om ’n wyse ‘Metusalem’ te word.”

Cupido beveel ’n holistiese benadering tot ouer word aan – fisiek, verstandelik en spiritueel.

“Om vir jouself te sorg, verantwoordelik te wees met medikasie, betekenis uit jou lewe te put deur iemand anders op te hef, selfs op ’n klein skaal, sal vir jou ’n mate van vervulling bring. Ken jou regte en staan op daarvoor. As jy steeds geestelik fiks is, neem self besluite. Leef op so ’n manier dat dit maklik is vir ander mense om jou te erken te respekteer; dink na oor die leiding wat jy bied en moenie toelaat dat jy geïntimideer of mishandel word nie.”

Sy beveel aan mense bly betrokke by kinders en kleinkinders, sodat hulle jou teenwoordigheid geniet.

“Ouderdom bring siekte, maar moenie dat dit die enigste onderwerp raak van jou gesprekke nie – dit sal mense van jou af wegstoot. Deel interessante stories en dra jou vaardighede op so ’n manier oor dat jonger mense jou steeds na waarde skat.”

Age-In-Action beveel ook aan dat mense by klubs aansluit om met hul tydgenote te sosialiseer.

“Probeer reeds voor jou aftrede sinvolle stokperdjies ontwikkel, maar bestee ook jou tyd om nuwe belangstellings te ontwikkel, verder te studeer en touwys te raak met hoe rekenaars en die internet werk,” sê Jordaan.

Hou ook jou onderbewussyn gesond, sê hy, deur nie jou tyd te verwyl met selfverwyt oor die verlede, dinge waaroor jy spyt is of wraakgedagtes teenoor ander nie.

Hy beveel aan jy neem die wilsbesluit om jou op die positiewe toe te spits en so nie toe te laat dat kwellinge oor genoeg aftreegeld of siekte jou ­lewensgeluk bederf nie.

Nuttige hulpbronne

  • Age-in-Action is ’n nasionale organisasie. Besoek ​age-in-action.co.za, skakel 0214264249 of skale die tolvrye hulplyn, 0800333231.
  • Dr. Arien van der Merwe se Healthy Living Space-kliniek is geleë in Brooklyn, Pretoria. Besoek ​drarien.co.za of skakel 0123622422. Sy bied onder meer ’n holistiese program aan, Timeless DNA, wat mense leer hoe om hul dieet, ontspanningstegnieke en die ontginning van hul kreatiwiteit te gebruik om voluit te leef.
  • Johannes Jordaan bied hulpbronne aan op ​myprime­time.co.za of stuur e-pos aan ​johannes.jordaan1944@gmail.com. Sy boek My prima tyd/ My Prime Time(Helderberg Uitgewers) kan deur die webwerf bestel word.
  • Senior Mind Moves-instituut: seniormind-moves.co.za of 0826342693. Kontak hulle ook vir besonderhede oor dr. Melodie de Jager se boek, Die glinster in my grysheid.

 

Uit: Die Burger, Woensdag 22 April 2015

http://www.netwerk24.com/ontspan/2015-04-22-die-lwe-n-aftrede?redirect_from=dieburger